WAAROM ’N TIENDE-STELSEL IN DIE KERK?
Dr F P Möller (Snr)
Hierdie vraag word dikwels gestel ”Kan elkeen nie maar gee hoeveel hy wil en wanneer hy wil nie? As dit iets is wat uit liefde en vrywilligheid geskied, waarom dan ’n stelsel in die kerk invoer waar van elkeen verwag word om sy tiende te gee anders sou hulle nie die regte voorbeeld stel nie?”
Allereers wil ons sê dat die gee van tiendes nie soos ’n uiterlike wet op mense afgedwing moet word nie. Die gemeenskap van gelowiges is immers ’n charismatiese gemeenskap waar mense onder die leiding en ondersteuning van die Heilige Gees moet optree. Die leiding van die Heilige Gees is egter nie net beperk tot voorskrifte wat oombik vir oomblik en van situasie tot situasie gegee word nie. Dit neem ook die vorm van ’n vaste bepaling aan – iets wat vir almal in alle situasies ’n voorskrif is. So ’n bepaling het die vergadering van Jerusalem vir die hele Nuwe Testamentiese kerk uitgevaardig, met die voorwoord: “Want die Heilige Gees en ons het besluit…..” Handelinge 15:28 en 29.
Die vereenselwiging met en die onderwerping aan so ’n voorskrif geskied nie op grond van uiterlike wetsdwang nie, maar gewilliglik en met liefde. ’n Mens kan hier die beeld van ’n ware huweliksverbintenis gebruik. Wanneer twee persone in die huwelik tree, doen hulle dit allereers vanweë spontane en liefdesoorwegings. Daarmee saam weet hulle dat hulle hulself verbind tot die onderhouding van sekere bepalings wat vir die huwelik geld, soos byvoorbeeld om aan jou huweliksmaat getrou te bly en nie wanneer jy so voel ’n ander man of vrou te neem nie. So is dit ook met die kerk van die Here.
Dit is nie net iets wat in die hart en gesindheid bestaan nie; dit het ook ’n uiterlike gestalte, ’n organisatoriese gestalte. En al die bepalings en regulasies van die kerk in so organisatoriese gestalte, is nie bedoel om uiterlike wette op jou te laai nie; dit dien as ’n vaste rigsnoer om jou te help om jou christelike lewe en bediening in die kerkverband uit te lewe. Dit help jou, met ander woorde, om dit waartoe jy jouself vrywillig en uit liefde gegee het op die mees effektiewe wyse in praktyk te bring.
Om die Here te aanbid, Hom te eer en sy saak op aarde te dien, is die beginsels waartoe elke gelowige homself verbind het. Maar hoe moet ’n mens nou die beginsels waartoe jy jou verbind het, tot uitlewing bring? Dit is waar die goddelike voorskrifte inkom, en waarvan die gee van tiendes een is. So het die Here dit in die Ou Testamentiese bedeling bepaal en so is dit ook na die Nuwe Testamenstiese bedeling oorgedra. Ons het reeds in ’n vorige artikel uitgewys dat dit slegs die Ou Testamentiese bepalings wat voorafskaduings, seremonies, tipes, profetiese gebeure en voorbereidende handelinge en instellings met die oog op die koms van die Messias is, wat in Christus beëindig is en nie in die kerkperiode oorgedra is nie.
Ons moet in gedagte hou dat die Nuwe Testamentiese Kerk vir die eerste aantal jare geen ander Bybel gehad het, as die Ou Testament nie. Daaruit het hulle geleer en gepreek met die nodige vertolking wat die versoeningswerk van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees daaraan gegee het. So word dan ook na die gee van tiendes in die Ou Testament verwys as iets wat doodnatuurlik vir die kerkperiode is. So vind ons ook byvoorbeeld, dat die Here Jesus self na die gee van tiendes as iets vanselfsprekend verwys, maar met die bepaling dat jy nie net omdat jy jou tiende gee ander baie belangrike sake maar kan nalaat nie. In Lukas 11:42 sê die Here Jesus: “Maar weë julle, Fariseers, julle gee tiendes van kruisement en die wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat”. Wanneer die Hebreër-skrywer die priesterskap van die Here Jesus met die van die Levitiese vergelyk, dan gebruik hy, onder andere, die stelsel van die gee van tiendes om daarmee die gesagsorde aan te dui – Hebreërs 7. Hoewel daar verandering van priesterskap gekom het en daarmee saam die beëindiging van die wet soos dit in Christus vervat is, word die gee van tiende as iets algemeens en nie as iets verbygaande gesien nie.
In die Nuwe Testament vind ons nie die invoering van ’n ander finansiële stelsel met die oog op die finansiering van die saak van die Here op aarde nie. Dit veronderstel dat die gee van tiendes soos in die Ou Testament ingestel was, net voortgaan. Wat ons wel in die Nuwe Testament vind, is die gesindheid en motief waarin die bydraes gemaak moet word. So vind ons dat in die opmerking van die Here Jesus oor die bydrae van die arm weduwee (Markus 12:42-44), die wyse waarop Paulus die onbaatsugtige bydraes van die Macedoniërs aanprys (2 Korinthiers 8:2-5) en opmerkings soos die volgende: “Maar wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie uit droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” 2 Korinthiërs 9:6, 7. Laasgenoemde uitspraak sluit dan ook aan by uitsprake wat in die Ou Testament oor die gee van tiendes gemaak word.
Die wysheid dat die finansiering van die saak van die Here op aarde ooreenkomstig ’n finansiële stelsel, soos die gee van tiendes moet geskied, spreek baie duidelik as ’n mens na die praktiese implikasies kyk. Die Leviete en priesters sou aan willekeur en totale onsekerheid uitgelewer wees as hulle maar net moes staatmaak op die besluit van elke Israeliet om te gee of nie, en wanneer hy wel gee, die bedrag, die ontvanger en die geleentheid wanneer dit gegee word, self bepaal. Dieselfde oorweging geld ook vir die finansiering van die kerk. Sonder ’n finansiële stelsel soos die gee van tiendes, kan die gemeente en die kerk as geheel nie salarisse, verbande, lopende uitgawes, sendingondernemings, opleidingsinrigtings, en dies meer dra nie. Die een maand mag daar baie geld wees en dan kan dit weer vir ’n lang ruk opdroog. Geen verantwoordelike beplanning en die uitvoering van kerklike pligte is moontlik as daar nie ’n finansiële stelsel is wat dit rugsteun nie. Die kerk is ook ’n organisasie en daarom moet dit ook ’n finansiële stelsel, soos die gee van tiendes, hê. Dit alles is net ’n bewys van die wonderlike voorsiening wat die Here reg van die begin af bepaal het.